Vyf-en-dertig sokkerleiers van 20 Afrikalande het gegradueer by die Konfederasie van Afrikasokker (KAS) se Uitvoerende Bestuursprogram aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se nagraadse sakeskool (Graduate School of Business) – net nog ’n mylpaal in ’n florerende vennootskap wat daarop gemik is om professionele sokkerleierskap op die vasteland van Afrika te ontgin en te vestig.
Die gradeplegtigheid op 30 Januarie het ’n weeklange program afgesluit wat by die UK se nagraadse sakeskool aangebied is, en het senior administrateurs, regspraktisyns, joernaliste en sokkerontwikkelingspesialiste van reg oor Afrika saamgesnoer. Die program is ontwerp om bestuurs-, leierskaps- en strategiese kennis in KAS se 54 ledeverenigings op te skerp en weerspieël ’n wedersydse verbintenis tussen UK en KAS om onderrig as ’n hoeksteen van Afrikasokker se langtermynsukses te lê.
Dit is deel van ’n baanbrekersmemorandum van ooreenkoms (MvO) wat in Mei 2024 tussen UK en KAS onderteken is, waardeur UK as ’n Afrikasentrum vir Onderriguitnemendheid erken is. Die ooreenkoms is in Kaïro in Egipte onderteken deur UK se destydse waarnemende visekanselier, Emeritus Professor Daya Reddy, en KAS se sekretaris-generaal, Véron Mosengo-Omba. Die ooreenkoms verbind die twee instellings daartoe om pasgemaakte bestuursopleidingsprogramme vir Afrika se sokkerbelanghebbendes aan te bied.
Onderrig as katalisator vir transformasie
Met die verwelkoming van graduandi en gaste by die seremonie het UK se visekanselier (VK), Professor Mosa Moshabela, gesê die program weerspieël die universiteit se verantwoordelikheid om sy kundigheid beskikbaar te stel om die toekoms van sokker op die kontinent te help verseker.
“Sokker speel ’n baie belangrike rol in ons samelewing – wêreldwyd, maar veral op die vasteland van Afrika,” het Professor Moshabela gesê. “Dit bring mense bymekaar oor demografiese en sosio-ekonomiese skeidslyne en verteenwoordig hoop en geleenthede vir jongmense. Daarom is ons meer as bewus van almal se sosiale en ekonomiese verantwoordelikhede met betrekking tot sokker, en dit sluit ons as universiteite in.”
Hy het beklemtoon dat graduandi nie net tegniese vaardighede aanleer nie, maar ook ’n nalatenskap skep wat Afrikasokker vir geslag na geslag sal beïnvloed. “Vandag se besluite is toekomsbesluite wat ’n sokkernalatenskap op die kontinent sal skep wat ons van generasie na generasie sal oordra.”
Die program word gelei deur Dr Quinton Johnson, direkteur van UK se Internasionale Kantoor, en kombineer aanlynleer met intensiewe kontakmodules by UK se nagraadse sakeskool. Die doelwitte sluit in die opskerping van leierskapskundigheid, die slyping van administratiewe kennis in ledeverenigings, inspirasie vir innovasie en die ondersteuning van die volhoubaarheid asook die bevordering van Afrikasokker op ’n wêreldwye mededingingsvlak.
Volgens Moshabela het hierdie program vereis dat UK buite sy tradisionele akademiese grense moes beweeg. “Die vereistes vir die ontwikkeling van sokkerleierskap het bepaal dat ons flinker en meer aanpasbaar moes word,” het hy gesê. “As ’n universiteit wat as een van die mees vooraanstaande instellings in Afrika erken word, is ons meer as bewus van die druk en besef ons ons verantwoordelikheid om ons hulpbronne en kundigheid beskikbaar te stel.”
Lesse wat die wêreld ons geleer het
Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (SASV), Dr Danny Jordaan, het die graduandi toegespreek en besin oor Afrika se reis in wêreldsokker. Hy het die verband beklemtoon tussen administratiewe vaardighede en die kontinent se vermoë om groot toernooie aan te bied en te wen.
“Een van die redes waarom Afrika so lank gering geskat is, is omdat sokkeradministrasie nie op ’n professionele standaard was nie,” het Dr Jordaan gesê. “Vaardigheidsontwikkeling – soos dit waaraan julle hier blootgestel is – is noodsaaklik as Afrikasokker wêreldwyd mededingend wil wees; nie net op die veld nie, maar ook af van die veld af.”
Met erkenning aan die lesse wat uit die 2010 FIFA Wêreldbeker geleer is, het Jordaan beklemtoon hoe onderrig, beplanning en leierskap Suid-Afrika in staat gestel het om een van die suksesvolste toernooie in die geskiedenis aan te bied. “Ons het die wêreld gewys dat Afrika kan uitstyg,” het hy gesê. “Die volgende stap is om te verseker dat Afrika-sokkeradministrateurs insigte verwerf het om dit wat hulle geleer het, toe te pas om ’n toekomsvisie van prestasie vir sokker op hierdie kontinent te skep.”
Graduandi het volmondig saamgestem en die program as insiggewend en prakties beskryf.
Shimaa El-Daly van Egipte, ’n regsgeleerde wat in sportsake spesialiseer en ook ’n programdeelnemer was, het gesê die blootstelling aan hierdie bestuursbeginsels en finansiële insigte het besonderse waarde tot haar kernvaardighede toegevoeg. “Hierdie program het my gehelp om die noodsaaklikheid van bestuursvlakkennis- en insigte te verstaan, selfs as ’n prokureur wat my eie firma bedryf,” het sy gesê. “Die dosente was uiters ervare en die netwerkgeleenthede was van onskatbare waarde.”
Die Suid-Afrikaanse deelnemer, Nkosinathi Innocent Mazibuko, besturende direkteur van die Weskus High Performance Football Centre, het gesê die program het ’n noodsaaklike sake- en kommersiële perspektief na sokkeradministrasie toe gebring. “Afrikasokker kan mededingend wees op die veld, maar die uitdagings was nog altyd af van die veld af – in leierskap, bestuur en kommersialisering,” het hy gesê. “Hierdie program help ledeverenigings op pad na selfvolhoubaarheid.”
Vir die Nigeriese sportjoernalis en uitvoerende deelnemer, Calister Enejele, het die program haar leierskapsvermoëns versterk en haar begrip van Afrika se sokkerekosisteme verbreed. “Dit het my leer-, bestuurs- en leierskapsvaardighede verbeter en my netwerkgeleenthede gegee met mense dwarsoor Afrika,” het sy gesê.
Moshabela het graduandi aangemoedig om UK as ’n langtermynvennoot te sien. “Dit gaan nie net oor die duur van die program nie,” het hy gesê. “Julle het nou ’n verhouding met die Universiteit van Kaapstad. As julle ooit ondersteuning nodig het, reik uit. Die universiteit bly ’n hulpbron vir julle.”
Terwyl hy die Klas van 2025 hartlik geluk gewens het, het hy bygevoeg: “Laat hierdie gradeplegtigheid ’n mylpaal wees – en jou uitnodiging en toewyding tot lewenslange leergierigheid – terwyl julle voortgaan om die toekoms van Afrikasokker te slyp.”
This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NoDerivatives 4.0 International License.
Please view the republishing articles page for more information.