Die Universiteit van Kaapstad (UK) se rektor, Professor Mosa Moshabela, het met groot lof gepraat oor die studente en die voortdurende hoë aansien wat hulle in die samelewing geniet. “Ek wil graag sien dat ons studente nie ontneem word van hul eindbestemmings van sukses, prestasie en impak nie.”
Professor Moshabela het onlangs besin oor die jaarlange ampstermyn wat verloop het sedert hy aan die stuur van sake staan. “Ons weet studente van die Universiteit van Kaapstad word op meriete gekies. Hulle is op baie maniere briljant en begaafd. Die afgelope jaar het ek egter gesien dat sommige van daardie studente, hetsy om finansiële of akademiese redes, nie die reis suksesvol aflê nie.” Hy het opgemerk dat hy onaangenaam verras is oor die hoë lewenskoste in die stad, wat ’n groot impak op studente het.
“Die lewenskoste en finansies kan sake moeilik maak. Ek wil hê studente moet weet dit is okei as hulle soms sukkel. Dit gebeur met ons almal. Maak nie saak hoe hardwerkend jy is nie, almal beleef op ’n stadium ’n moeilike tyd. Ek hoop regtig dat studente ons kan help om hulle in tye van nood betyds by te staan.”
Moshabela het ’n een-tot-een-gesprek met die bekroonde uitsaaier Nikiwe Bikitsha gevoer ter viering van sy eerste 12 maande as rektor.
Moshabela het gesê hy verstaan waarom studente dikwels nie hul stem laat hoor nie. Daar is ’n vermeende stigma daaraan verbonde, “maar dit is baie belangrik dat ons positief reageer”.
“[Die instelling] is trots op die sukses van ons studente. Daarom wil ek hê ons moet saam met ons studente werk – en as ons reaksie nie voldoende is nie, moet hulle dit vir ons sê.”
Die regte talent beteken die regte aantrekkingskrag om nog tot ver in die toekoms die regte studente te lok. Moshabela het die aantrekkingskrag van die UK vergelyk met dié van agtereenvolgende rugbywêreldbekerwenners, die Springbokke, wat in 2023 ’n ongekende vierde titel in Frankryk gewen het.
“Die instelling het ’n reikwydte wat verder strek as net geaffilieerde belanghebbendes. Ek kan die nostalgie van UK-alumni en die sterk bande wat hulle met die instelling gevorm het, verstaan.” Die belangstelling in die UK, het hy gesê, word gewek omdat die instelling ’n simbool van hoop is. “Dis nie net ’n plek waarheen jy gaan om te studeer nie. Dit is veel eerder soos die Springbokspan: selfs al ken en volg jy nie rugby nie, erken jy op die een of ander manier die rol wat die Springbokke in die samelewing speel as ’n simbool van hoop, eenheid en sukses,” het Moshabela gesê.
“Ek waardeer die idee van ubuntu in die praktyk.”
Hy het dalk eers in Augustus 2024 begin, maar Moshabela het reeds in Julie in Kaapstad aangekom. Dit was tydens ’n bitter koue winter, maar intussen voel alles vir hom minder kil. “Toe ek hier aankom, was Kaapstad koud. Dit was donker, dit was winderig en dit het boonop heeltyd gereën. Ek kan egter sê dat die weer vanjaar baie beter was. Miskien het ek geakklimatiseer.”
Nadat hy passievol gepraat het oor die belang van studentesukses en die breë sosiale impak van die UK, het die gesprek op ’n ligter noot voortgegaan. As jy dalk wonder wat ’n rektor in sy vrye tyd doen, is die antwoord baie maklik: hy het geen vrye tyd beskikbaar nie. Terwyl hy nog druk besig is om sy voete te vind en die UK se toekoms te beplan, hoop Moshabela dat daar mettertyd tyd sal wees om Tafelberg uit te klim, strand toe te gaan en alles wat Kaapstad bied, te geniet. “Maar dit hang alles daarvan af of die instelling goed vaar,” het hy opgemerk.
Aandetegas
Die vraag oor vryetydbesteding het gelei tot die vraag watter mens, dood of lewend, hy as die ideale aandetegas sou kies. “Nelson Mandela,” was sy antwoord. “Ek staan steeds verstom oor die lewe van die man. Hoe meer ek as leier groei, hoe meer waardeer ek hom. Ek waardeer die idee van ubuntu in die praktyk.” Wat sou hy voorsit by die aandete met Mandela, wou die onderhoudvoerder weet. “Osstert,” het Moshabela laggend geantwoord.
This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NoDerivatives 4.0 International License.
Please view the republishing articles page for more information.