Henning Snyman: 1938–2017

29 March 2017 | Deur Joan Hambidge.
Professor Henning Jacobus Snyman
Professor Henning Jacobus Snyman

21 July 1938 – 29 March 2017

Henning Snyman: In memoriam

Daar is min letterkundiges wat so insigryk oor die digkuns kon skryf as HJ Snyman, oftewel Henning Snyman. Ek had die voorreg om deur die jare etlike leesverslae oor my digkuns van hom te kon ontvang.

’n Hebbelikheid in ’n digterlike arsenaal kon hy raaksien. Hy het my beheptheid met die ellips en aandagstreep uitgewys.

Snyman sou ’n mens ten beste as die Frank Kermode van die Afrikaanse letterkunde kon sien. Semantikus en kenner van klassieke tekste (veral die Bybel), soos Kermode. An Appetite for Poetry (Fontana, 1989) het hy vir my persent gegee.

Sy grootste geskenk aan my was sy stiplees van my manuskripte, waar hy met ’n potlood ’n vraag sou vra en jou terugneem na die binnewerking van die gedig.

Astrak, my jongste manuskrip, lees hy met nougesette aandag, ’n bundel wat ek o.a. aan hom opdra.

Op Woensdag-oggend, 29 Maart, praat ons vir oulaas telefonies. Op Vrydagmiddag ontvang ek ’n SMS van sy foon – “Professor Snyman is vanoggend oorlede” – waarskynlik versend deur ’n naasbestaande wat die hele lys kollektief laat weet het.

As kenner van primordialiteit sou hy die ironie hierin raakgesien het. Dat hy nou bloot vertrek en vir oulaas groet. Op pad na die groot kollektiewe ruimte.

Sy bydraes oor die digkuns is enorm. Hy het vele studente onder sy promotorskap gehad – ekself het ’n studie oor gender onder hom voltooi.

Sy grootste werk is bepaald Mirakel en muse – ’n Studie oor die funksie van die implikasie-verskynsels by die interpretasie van ’n gedig (Perskor, 1983), ’n verwerking van sy doktorale studie onder Roy Pheiffer.

Hierdie boek het altyd saamgereis met my. Hieroor het hy net gelag.

Sy analise van Opperman se “Dennebol” waarin hy die tydsverskille in die komplekse gedig aanstip het elke derdejaar-student onder my leiding bestudeer. Die tabelle oor die verskille tussen die geografiese en metafisiese ruimte het menige student gehelp om die komplekse gedig “oop te maak”.

In my gedigte praat ek dikwels ook met hom, soos met Johann de Lange. Sy eerste vrou, die digter Annette Theron, het soos hy, my liefde vir Boerneef aangestig. As jong mens hoor ek op dieselfde dag van haar dood toe ek ’n brief lees van haar.

Ek berg in my gemoed HJS se lesse oor die koggelbos van die digkuns.

Van al die teoretici is daar maar net jy, in navolging van Boerneef se “Van al my land se Tafelberge” ...

En hierdie gedig het ek geskryf, goedskiks ’n jaar gelede, wetend-onwetend van sy vertrek.

Lees die gedig...


Creative Commons License This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NoDerivatives 4.0 International License.

Please view the republishing articles page for more information.


TOP