Die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Wes-Kaapse Regering (WKR) het hul jarelange vennootskap herbevestig met die ondertekening van ’n Memorandum van Ooreenkoms (MvO) wat hul samewerking met navorsing, innovasie, vaardigheidsontwikkeling en kapasiteitsbou in die openbare sektor verder sal verdiep.
Hierdie hernude ooreenkoms bou voort op die partye se samewerking wat met die kursus in Toegepaste Kompleksiteitswetenskap begin het. Dit is ’n kortkursus met UK-sertifisering wat ontwikkel is om werknemers van die WKR toe te rus met die hulpmiddels wat nodig is om toenemende komplekse uitdagings verwant aan openbare beleid die hoof te bied.
Sedert die bekendstelling van die program het meer as 300 staatsamptenare die kursus suksesvol voltooi, terwyl nog 11 kandidate beplan om in te skryf vir ’n meestersgraad aan die UK.
Die UK se adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, Professor Brandon Collier-Reed, het hierdie ooreenkoms as veel meer as ’n blote administratiewe mylpaal beskryf.
“Hierdie MvO is ’n herbevestiging van ons vennootskap wat alreeds ’n betekenisvolle impak gehad het, met ’n belofte dat hierdie impak in die jare wat kom verder van krag tot krag kan gaan. Dit weerspieël ons gesamentlike oortuiging dat universiteite en die regering kan saamwerk om oplossings te vind wat openbare instellings versterk en die lewens van landsburgers verbeter,” het hy gesê.
Die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het gesê dat die konsep van vennootskappe solied ingebed is in sy vyf ministeriële prioriteite.
“Groot maatskaplike uitdagings kan nie deur ’n enkele rolspeler, soos die regering, alleen aangepak word nie. Die beste oplossing word bewerkstellig deur samewerking en om medeverantwoordelikheid te neem. Die vennootskap tussen ons en die UK bring ons nader aan ons gesamentlike doelwit om nie net ’n infrastruktuur te anker nie, maar ook te versnel, en betekenisvolle veranderinge in die lewens van ons landsburgers teweeg te bring.”
Versterking van vennootskappe
Die ondertekening van die MvO is ’n beduidende stap in die versterking van die verhouding tussen hoër onderrig en die regering. Dit wys hoe samewerkingsvennootskappe met innoverende oplossings vir komplekse maatskaplike en ekonomiese uitdagings vorendag kan kom.
Die samewerking sal op verskeie strategiese prioriteite fokus. Dit sluit in die versterking van leierskap en bestuur in die openbare sektor; die bevordering van professionele ontwikkeling deur geakkrediteerde kortkursusse en mikrokwalifikasies; die aanmoediging van lewenslange leer; die ondersteuning van infrastruktuurinnovasie; en die praktiese toepassing van wetenskaplike navorsing op dienslewering in die openbare sektor.
Die ooreenkoms strook ook met die oogmerke van die Wes-Kaapse Drievoudige Heliksamewerking. Dit erken die belangrike rol wat vennootskappe tussen die regering, universiteite en die nywerheid speel om ’n volhoubare ekonomiese ontwikkelingsdryfveer te wees om die provinsie se Visie-2050 te verwesenlik.
“Die UK sien uit na hierdie volgende hoofstuk van samewerking en om voort te bou op dit wat alreeds deur hierdie vennootskap bereik is.”
Professor Collier-Reed het die UK se verbintenis tot ’n langtermynvennootskap in die uitbouing van leierskap, vaardighede en institusionele kapasiteit regoor die Wes-Kaap herbevestig.
“Hierdie verbintenisse is geanker in wat ons alreeds saam vermag het. Dit weerspieël ’n indiepte begrip dat vennootskappe van hierdie aard volgehoue belegging, wedersydse aanspreeklikheid en opregte welwillendheid vereis.
“Die UK sien uit na hierdie volgende hoofstuk van samewerking en om voort te bou op wat alreeds deur die vennootskap bereik is.”
Die pad vorentoe
Ingevolge die ooreenkoms sal die UK en die Departement van Infrastruktuur voortgaan om gesamentlike kennisuitruilinginisiatiewe aan te bied, die vordering jaarliks te monitor en gereeld verslag te lewer om die impak van die vennootskap te evalueer.
Die hernude vennootskap beklemtoon ’n gedeelde visie om akademiese uitnemendheid, bewysgebaseerde beleidsvorming en samewerkende leierskap te benut om die prestasie van die openbare sektor te versterk en ’n bydrae te lewer tot volhoubare ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap.
This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NoDerivatives 4.0 International License.
Please view the republishing articles page for more information.